Letterkunde: Die literêre opstel


Wat is ’n literêre opstel?
’n Opstel oor ’n spesifieke literêre werk bv. ’n roman, drama of gedig.

Wat is die doel van 'n literêre opstel? 
Om ’n spesifieke onderwerp of vraagstuk te bespreek. 
Hierdie bespreking moet dan met bewyse uit die teks gestaaf word. 

Pasop! 
  • 'n Literêre opstel” is nie iets wat jy nét in Afrikaans moet doen, met die uitsluitlike doel om punte te kry nie.
  • Jy leer hoe om na ’n oorvloed inligting (die inhoud van die roman/drama) te kyk, en slegs die nodige inligting uit te haal wat jou kan help om jou punt te bewys.

Wat is die WAARDE van ’n literêre opstel?
Wanneer jy leer om ’n literêre opstel te skryf, leer jy ’n belangrike vaardigheid aan wat jy in heelwat beroepe kan gebruik:
 STEL JOU DIE VOLGENDE VOOR:
1.    Jy moet jou baas oortuig dat die werk nuwe skootrekenaars moet kry. Jy het data oor verskillende skootrekenaars, die werknemers se behoeftes, die huidige werksuitset, ens. en jy moet hieruit die nodige inligting isoleer vir ’n verslag wat jou baas sal oortuig.
2.    As hulpafrigter het jy videos van die span se laaste vyf wedstryde, wat julle verloor het. Jy moet ’n plan van aksie opstel. Jy sal dus deur die videos moet werk om slegs die relevante sterk- en swakpunte in jul spelpatroon te identifiseer as motivering waarom julle spesifieke veranderinge moet aanbring.
3.    Jy moet ’n artikel oor skoonheidswenke skryf vir die tydskrif waar jy werk. Die internet is propvol navorsing oor dieselfde onderwerp, en jy moet besluit watter inligting jy gaan uitlig en gebruik. Jou bronne moet erkenning kry en jy moet jou wenke motiveer en uitbrei daarop.

In die bostaande scenarios sal jy met die skryf van jou verslag, plan van aksie of artikel kan TERUGVAL OP DIE VAARDIGHEDE WAT JY IN DIE LITERÊRE OPSTEL GELEER HET.

Wenke by die skryf van ’n literêre ontleding
1.    Skryf in die teenwoordige tyd:
Voorbeeld: “Anoeshcke von Meck se roman Vaselinetjie speel af teen die agtergrond van …” of “Hanna se verhouding met haar pa, Gavin, verbeter op die berg wanneer…” . Die leser word sodoende by die boek en jou ontleding betrek.

2.    Hou jouself uit die ontleding.
Alhoewel jy jou opinie moet gee, moet die opstel nie om jou draai nie. Dus nié: “Ek dink die dialoog is oortuigend, want volgens my is...” nié.
Jy moet die leser van jou punt kan oortuig, maar minimaal na jouself verwys. Anders het hy/sy te veel ruimte om van jou te verskil.

3.    Moenie bloot die mening van ’n kritikus herhaal nie.
Die literêre opstel gee jou kans om standpunt te formuleer. Sorg net dat jy dit met aanhalings uit die teks kan bewys.

4.    Moenie die storie (intrige) oorvertel nie.
Die literêre opstel is ’n ontleding en verduideliking van jou mening. Jy moet wys dat jy ’n teks krities kan lees en die nodige inligting kan onttrek om ’n spesifieke argument te versterk.

5.    Wees spesifiek in jou verwysings.
Verwysing na karakters, gebeure en besonderhede in die roman moet spesifiek wees. Wys dat jy die detail van die roman ken en dat jy met ’n kritiese oog daarna kyk.

6.    Moenie veralgemeen of “gorrel” nie.
Sorg dat jy die literêre begrippe kan raaksien en in jou opstel kan gebruik, bv. tema, ruimte, vertelperspektief, dramatiese ironie, konflik, handelings...

7.    Die skrywer teenoor die verteller.
Die skrywer is nie noodwendig die verteller (van die verhaal) of die spreker (in die gedig) nie. Marita van der Vyver is die skrywer van Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom, maar Hanna is die ek-verteller deur wie se oë die gebeure gesien word.

8.    Baie belangrik: Gebruik die PIV-formule in elke paragraaf.
P  - Watter punt maak jy?
I   - Illustreer dit m.b.v. ’n aanhaling of bewys uit die teks.
V - Verduidelik jou punt verder.

        Die PVI-formule werk ook (en is dalk vir jou meer logies).
P  - Watter punt maak jy?
V – Verduidelik (brei uit op) jou punt.
I   - Illustreer dit m.b.v. ’n aanhaling of bewys uit die teks.
Maak net seker dat die aanhaling geïntegreer word, nie soos 'n stertjie agternasleep nie.

 Die volgende raamwerk kan jou help met jou beplanning:
Paragraaf 1:                Inleiding
Beantwoord die vrae en stel kortliks die hoofpunte wat in die opstel aangeraak gaan word

Paragraaf 2:                Tema of saak 1 +voorbeelde / bewyse uit die roman
Paragraaf 3:                Tema of saak 2 +voorbeelde / bewyse uit die roman
Paragraaf 4:               Tema of saak 3 + voorbeelde / bewyse uit die roman

Finale paragraaf:         Som die hoofgedagtes op en verwys na die oorspronklike vraag.

 Voorbeeld van ’n vraag:
 Bespreek twee of drie temas / kwessies wat behandel word in die roman wat jy bestudeer het, EN verduidelik hoe die slot van die roman jou aan een van hierdie temas herinner het.

Die vraag bestaan uit TWEE dele; maak dus seker dat jy beide dele beantwoord.
  1. Eerste lees: Lees die hele vraag om ’n algehele prentjie te kry.
  2. Tweede lees: Onderstreep kernwoorde en nommer die verskillende afdelings van die vraag.
  3. Derde lees: Verduidelik die vraag aan jouself!
  4. Herinner jouself aan die vereistes van die vraag:

a.    Ek moet skryf oor een, twee of drie temas / kwessies in die roman
b.    Ek moet self die temas kies (en formuleer).
c.    Ek moet verduidelik hoe die slot van die roman my aan een van die temas herinner.

Opmerkings

Gewilde plasings