Skryfformate: Die argumenterende opstel

ARGUMENTERENDE OPSTEL

Kenmerke:
 Die skrywer neem standpunt in vir of teen die onderwerp.
 Die verdediging of aanval van ’n saak word enduit volgehou.
 ’n Reeks argumente met motivering word gegee om die leser van die standpunt te oortuig.
 DUS: Dit is jou mening, maar dit moet ondersteun word deur feite. Feite maak dit geloofwaardig en
oortuigend.
 ‘n Skrywer mag nie veralgemeen nie. Bv. As ‘n skrywer ‘n vrou ken wat al twee keer haar motor
gestamp het, kan hy/sy nie sê “Alle vrouens is swak motorbestuurders.” nie.

Taalgebruik:
 Jy moet kan onderskei tussen feite en menings.
 Verweef feite en navorsing om jou stellings te ondersteun. Feite sonder navorsing klink nie
geloofwaardig nie. ‘n Klomp navorsing wat aaneen geskryf word, raak vervelig.
 Gebruik duidelike onderwerpsinne in elke paragraaf. Die leser moet presies weet wat daardie
paragraaf behels.
 ’n Verskeidenheid stylfigure en oorredingstegnieke kan gebruik word. Jy kan byvoorbeeld jou
onderwerp deurgaans herhaal.
 Sterk gevoelstaal wat emosioneel is, kan gebruik word. Speel op die leser se gevoel deur uit te
wys hoe erg ‘n situasie is voor jy dit probeer oplos; lewer bewyse dat ‘n groot deel van die
samelewing met jou saamstem…
 Hou sinne kort, sodat die betekenis duidelik is.
 Geen kru-taal mag voorkom nie.
 Daar moet ’n duidelike en oortuigende slot wees.
 Sinstruktuur, spelling, leestekens, taalgebruik en paragrafering moet aandag geniet.



Formaat:
1. Inleiding om jou standpunt te stel.
2. Inhoud: Argumente wat jou standpunt ondersteun
                  a. Argument 1, gesteun deur bewyse (feite, data, navorsing)
                  b. Argument 2, gesteun deur bewyse (feite, data, navorsing)
                  Ensovoorts (gee tot 4-6 argumente)

Opsioneel:
3. Identifiseer argumente wat mense TEEN jou standpunt kan gee, maar wat jy gaan beveg (opsioneel):
                 a. Argument 1, kortliks gemotiveer met bewyse
                                          i. Beveg die argument met sterker bewyse!
                 b. Argument 2, kortliks gemotiveer met bewyse
                                          i. Beveg die argument met sterker bewyse!
                                          Ensovoorts.
4. Samevattende, sterk slot.


‘n Uittreksel uit ‘n voorbeeld: 

‘n Mens moet/moenie toegelaat word om op skool te rook (nie)

Deesdae kan jy nie om ‘n hoek of draai stap sonder om jou in ‘n walm van tweedehandse rook te bevind nie. Dis ‘n daaglikse stryd teen sigaretrokers, pyprokers, en deesdae ook die selftevrede, “dis-nie-so- ongesond-soos-sigarette-nie” e-sigaretrokers waarteen ons oorlog voer. Stap pousetyd om na die rugbypaviljoen, en ook daar sal jy ‘n sondebok of twee vind vir wie die plesier belangriker is as die gesondheid van hulself of hul medeleerders. Leerders, en ook onderwysers, moet nie toegelaat word om op skoolgronde te rook nie.

Dit sal tot groot voordeel van leerders wees indien rookgewoontes reeds by onderwysers aangespreek word. Wanneer onderwysers openlik slegte gewoontes, soos rook, beoefen, skep dit ‘n indruk dat hierdie gewoontes aanvaarbaar is. Leerders kopieer dit, omdat onderwysers rolmodelle is wat veronderstel is om met hul gedrag leerders positief te lei.

Rook is nie net sleg vir jou beeld nie, maar ook vir jou gesondheid. Rokers se gesondheid en sintuiggebruik verswak op die lange duur. Nie net is die nikotien en teer in sigarette van die hoofoorsake van long- en keelkankers nie, rook veroorsaak ook hartkwale en lei daartoe
dat die sensitiwiteit van ‘n roker se smaakkliere afneem. Dit kan daartoe lei dat rokers te veel geurmiddels en suiker inneem omdat hul kos “na niks” proe...

Opmerkings

Gewilde plasings