Beskrywende tekste


Skryf ’n paragraaf van 160-180 woorde oor die volgende prentjie:


“Moenie huil nie, ek kom in vrede,” is die eerste woorde waaraan ek kan dink. Iets in my frontale breinsel registreer dat hierdie ding voor my nie luister nie, maar aangesien hy lyk of hy seer kan slaan, probeer ek  vriendelik wees. Geen reaksie nie. Ek neem aan hy verstaan my nie; praat seker nie die Afrikaans wat ek spesiaal aangeleer het nie.

Ek voel die angs in my borskas vibreer. Die sweet spuit tussen my tone uit en die knaap voor my doen niks om my beter te laat voel nie. Verwag hy ek moet sy hand skud? Dan besef ek met verligting – nes ek, het hy ook nie arms nie. Maar as hy my nie verstaan nie, en ons kan nie hande skud nie, wat is volgende?

Skielik voel ek ’n steekpyn soos die are na my linkeroog en dan my regteroog toegedruk word. Ek verloor my sig en voel hoe my boude die aarde tref-verlaat-tref-verlaat-tref-verlaat. Voor ek finaal flou word van pyn, hoor ek ’n skril stemmetjie skree: “Kyk Mamma, iemand het ’n Bouncy Ball by die kraan vergeet!”

Opmerkings

Gewilde plasings