Skryfformaat: Aansoekbrief


                                                                        Altenaweg 13
                                                                        Strand
                                                                        7140
                                                                        27 Maart 2018                 
Die Bestuurder
Helderberg Dierebeskermingsvereniging
Posbus 15
Gordonsbaai
7140

Geagte me. F. du Toit

Aansoek om betrekking as vrywilliger

Hiermee reageer ek op u advertensie in Awsum van 9 Oktober 2017 om as vrywilliger by u instansie te kom werk.

Ek is ‘n gr.10-leerder van Hoërskool Strand wat lief is daarvoor om hulp te verleen. Ek wil graag iets goed in my gemeenskap doen.

My gunsteling skoolvakke is Lewensoriëntering en Biologie. Die vaardighede en kennis wat ons opdoen in LO stel my in staat om ander met simpatie by te staan, en daarom wil ek ook julle diere help. In Biologie doen ek kennis op wat my sal help in my droom om ‘n veearts te word, en ek glo hierdie vrywilligerswerk is ook deel van my verantwoordelikheid teenoor my eie ideale.

Ek is die trotse eienaar van twee DBV-honde en is daagliks verantwoordelik daarvoor om hulle kos te gee, met hulle te gaan stap en met hulle te speel. Hulle word weekliks gebad en uitgekam en ek kom al hierdie aktiwiteite pligsgetrou na.

Ek het ervaring by Stellenbosch Dierewelsyn opgedoen voor ons verhuis het, en my honde daar aangeneem. Vir inligting oor my werksvermoëns kan u Mnr. Fortuin van AWS kontak by (021) 875 1100.

Ek glo my liefde vir diere, my hardwerkendheid en pligsgetroue ingesteldheid sal tot voordeel van u instansie en die diere wees en hoop om van u te hoor.

Die uwe
GHSerfontyn
Gideon Serfontyn
                                                                                                                                                                       

Opmerkings

Gewilde plasings