Graad 8: Die bere en die maanheuning

Die bere en die maanheuning - Leon de Villiers

'n Volksverhaal

Opsomming: 
"Die bere en die maanheuning" handel oor 'n jong leeutjie, Kwispel, wat saam met sy ratelmaat, Taaitjie, 'n plan beraam om ontslae te raak van die bere wat hul watergat tydens 'n droogte beset. 
Die verhaal bevat magiese elemente, soos diere wat kan praat en voëls wat die vermoë het om tot by die maan te vlieg. 
Soos baie tradisionele dierestories, verklaar De Villiers se hedendaagse verhaal 'n hele paar natuurverskynsels:
  1. Hoekom is daar geen bere in Afrika nie?
  2. Waarom kan volstruise nie vlieg nie?
  3. Waarom loop volstruise so met hul koppe in die grond?
  4. Minder belangrik ook: Hoe het dit gebeur dat leeus die "leiers" van die diere geraak het? Is dit dalk omdat 'n leeutjie die waterbron gered het?

Antwoorde op Platinum Leesboek se vrae:

Verstaan die verhaal:
  1. Die olifante. Hulle kan nie help nie, omdat hulle weggetrek het na groener weivelde (letterlik na waar water is; figuurlik na 'n beter plek)
  2. Gryns, die hiëna, stel voor dat hulle 'n vanggat grawe vir die bere, maar aangesien net die olifante sterk genoeg is om dit te doen, en hulle weggetrek het, sal di plan nie werk nie. Diknek, die renoster, stel voor dat hulle die fontein toestop sodat die bere wegtrek na 'n ander waterbron, maar dit sal nie werk nie want die res van die diere is ook afhanklik van die fontein se water.
  3. Kwispel lê baie stil - "doodstil"! - terwyl hy aan 'n plan probeer dink, en daarom dink Hoopvol, die aasvoël, dat hy op die leeuwelpie kan aas.
  4. Taaitjie weet dat hy in groot moeilikheid by sy pa sal wees as sy pa uitvind dat hy uitgepraat het oor die heuning wat hulle wegsteek.
  5. Hoekom is daar geen bere in Afrika nie? Die maanwinde het hulle weggewaai, vermoedelik na Noord- en Suid-Amerika. Waarom kan volstruise nie vlieg nie? Die bere het die volstruise se sterk vlerkvere uitgetrek om maan toe te kan vlieg. Waarom loop volstruise so met hul koppe in die grond? Die volstruise soek die bere se spore om te volg, sodat hulle hul vlerkvere kan terugkry.
Letterkundige aspekte:
  1. Wat is in 'n naam?
    1. Kwispel: Die werkwoord beskryf hoe 'n kat/katagtige dier se stert beweeg wanneer hy spelerig, jagtend of onrustig is. Dit illustreer dat Kwispel 'n woelige leeuwelpie is wat nie graag stilsit nie, en dat hy ongeduldig is, soos ook bewys is toe hy self 'n plan maak om van die bere ontslae te raak. 
    2. Brulbek: Kwispel se pa is kwaai en raas met hom. 'n Leeu se geluid is 'n "brul".
    3. Hoopvol: Die aasvoël se naam pas daarby dat aasvoëls van nature hoop om iewers kos te "vind". Aasvoëls is afhanklik van ander roofvoëls, daarom moet hulle altyd "hoop" dat hulle iewers kos kan aas. 
    4. Taaitjie: Die ratel se naam sluit aan by die uitdrukking "so taai soos 'n ratel", en is ook 'n slim keuse omdat ratels baie lief is vir heuning, wat 'n taai vloeistof is. Die volgende video wys presies hoe slim en taai ratels is: Stoffel, die ratel ("honey badger")
    5. Kromklou: Bere het sterk pote met harde, gevaarlike kloue. Die hoofbeer se naam dui dus op hoe gevaarlik hy moontlik is.
    6. Nie op die lys: Stilsluip: Kwispel se ma is natuurlik een van die voorste jagters. Leeuwyfies is verantwoordelik daarvoor om prooi te bekruip en te jag, om sodoende vir die trop te sorg. Haar naam dui dus op haar vermoë om goed te bekruip en dit word beklemtoon wanneer Kwispel sag genoeg praat dat sy pa hom nie hoor nie, maar hy is onbewus van sy ma wat saggies nadergekom het.
  2. Die bere is selfsugtig, want hulle gun geen ander diere 'n kans om water te drink nie. Hulle speel in die drinkwater en maak dit modderig en aaklig, sodat die ander diere nie genot en lafenis daaruit kry nie. Hulle is bombasties en hiet en gebied almal deur bevele uit te skree en te verwag almal moet hul gehoorsaam - Hulle grys die volstruise se vere teen die volstruise se wil. Die bere is ook vraatsig oor die heuning, en bietjie liggelowig (glo maklik ander se stories), want hulle glo maklik Kwispel en Taaitjie se storie oor die maanheuning.

Opmerkings

Gewilde plasings